top of page

SKOOL SE GESKIEDENIS

ALGEMEEN

 

Laerskool Villieria is op 4 Februarie 1903 gestig. 

 

Voorheen was hierdie stuk grond waarop die skool gebou is, deel van die plaas “Rietfontein”.  Dit het hier gewemel van die wildsbokke want hier was natuurlike water in die Moot. ʼn Gedeelte van hierdie plaas is later opgemeet vir woonerwe.

 

Villieria is die derde oudste stadswyk in Pretoria.  Net Arcadia en Sunnyside is ouer.  Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog word die Milner-skole gestig waar almal hard probeer het om die Afrikanerjeug te verengels.

 

Die “Villieria Government Free School” wat op 4 Februarie 1903 gestig was, is ook op die erf van mnr JL Moerdijk opgerig.

 

Die skool open met 19 leerlinge (9 seuns en 10 dogters) en hul ouderdomme het gewissel van 4 tot 17 jaar.  Die eerste hoof, mnr Moerdijk, was slegs in ʼn waarnemende hoedanigheid aangestel aangesien hy van Nederlandse afkoms was.  Die maksimum ure waarin daar in Nederlands les gegee kon word, was slegs 3 ure per week.

 

Hierdie eerste skool het bestaan uit twee tente wat nog in die konsentrasiekampe gebruik is.  In die begin het dit maar moeilik gegaan.  Die tente het geskeur as daar kwaai storms was.  Wanneer dit te veel gereën het, was die Mootspruit vol en kon die kinders glad nie by die skool uitkom nie.

 

Die meeste leerlinge het met donkies skool toe gery.  Terwyl hulle in die skool besig was, het hierdie donkies in die kampie by die skool gewei.  Hierdie gebruik by die skool het veroorsaak dat die skool die bynaam van die Donkiekampskool gekry het.

 

Na die boere-oorlog was die meeste mense baie arm.  Die kinders het dikwels nie genoeg kos by die huis gekry nie.  Daar is toe besluit om vir die kinders sop en ʼn broodjie in die winter te gee.  In die somer het hulle melk, vis en kaas gekry.  Hierdie gebruik besorg aan die skool sy volgende bynaam:  “Sopskool”.

 

Met die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 was daar groot feesvieringe oral in die land.  By Villieria-skool is daar ook ʼn fees gevier deur ʼn monument te bou van die klippe wat die leerlinge moes aandra.

SKOOLHOOFDE

Mnr DP Haasbroek

2007 Jan – Huidig
Mnr DP (Dawid Petrus) Haasbroek
Bring sy grootwordjare deur op die plattelandse dorpie Potgietersrus.  Sy laerskoolloopbaan (Gr 1 – 7) was by Laerskool Krugerpark en die volle duur van sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Piet Potgieter.  Hy voltooi sy onderwysdiploma in 1989.  Sy verdere studies behels ʼn graad in Afrikatale wat hy in 1990 voltooi en verwerf ook sy Honneursgraad in Afrikatale in 1993.  Sy loopbaan in die Onderwys begin in 1990 by Laerskool Villieria waar hy eers as onderwyser, later as Departementshoof en toe in 2007 as Hoof aangestel is.  Mnr Haasbroek, ʼn mens-mens wat leef met ʼn passie vir die skool en sy kinders, is geliefd en bekend beide onder die skoolgemeenskap en ook die wyer Mootgebied waar almal hom op straat herken.

DP Haasbroek.png

SKOOLHOOFDE

Mnr JHC Kruger

1988 Jan – Des 2006
Mnr JHC (Hans) Kruger
Bring sy grootwordjare deur op
ʼn plaas tussen Rustenburg en Swartruggens.  Vanaf Gr 1 tot 6 besoek hy die tweeman-skooltjie Laerskool Waterval en daarna die Hoërskool Rustenburg.  Terwyl hy na matriek administratiewe werk doen by die Onderwysdepartement, behaal hy na 3 jaar sy Onderwysdiploma met behulp van na-uurse klasse by die Onderwyskollege.  In 1976 voltooi hy sy BA-graad met Geskiedenis en Kriminologie as hoofvakke en daarna ʼn diploma in Onderwys-bestuur.

JHC%20Kruger_edited.jpg

SKOOLHOOFDE

Mnr WJ Oberholzer

1969 Jul 1-  Sept 28
Mnr WJ Oberholzer
Is reeds vanaf 1966 as adjunkhoof by Villieria betrokke.  “Hy was altyd
ʼn ware leier, iemand wat vinnig besluite kon neem.  Op administratiewe vlak en wat organisasievermoë betref, was hy altyd puik en akkuraat.  Hy het intens belang gestel in sy skool se buitemuurse aktiwiteite.  Hy het met groot geesdrif die rugbytoere en atletiekuitstappies meegemaak. Vroeër jare was hy ʼn groot Voortrekker-entoesias en hy was ook vir baie jare kommandant van ʼn kommando.  Hy het later as streekleier uitgetree (RJ Botes – oud-kollega).

WJ Oberholzer.png

SKOOLHOOFDE

Mnr C Malan

1956 Jan - 1969 Jun 30
Mnr C Malan
Is sedert Jan 1941 aan die skool verbonde.  “Hy het by my die eerste saadjie van volks- en nasietrots geplant, die Volkslied geleer en ʼn ontsag vir dissipline handhaaf deur die kind besig te hou.  As die werk gedaan was, het hy vir ons voorgelees – ons het so daarna uitgesien dat die werk so gou en goed moontlik afgehandel is.  Baie goed onthou ek nog die genot van “Buks die Ratel” en “Uit Oerwoud en Vlakte” – om nie te praat van die netjiese handskrif wat hy ons geleer het nie (JS Krynauw oud-leerling).  Hy was ʼn groot jukskei-entoesias en het gereeld jukskeitoernooie georganiseer.  Onder sy leiding het Villieria dan ook groot hoogtes bereik.

C Malan.png

SKOOLHOOFDE

Mnr CJFC Niemann

1943 Aug 3 – 1955 Des 14
Mnr CJFC Niemann
Vir die jonger kollegas was “oom Chris” die ideale hoof – die man wat dissipline in die skool kon  handhaaf en die verhouding met die ouers reg hou.  Vir die kinders was hy ontsettend lief.  Sy personeel het hy lojaal beskerm.  Hy was nie net groot en fors in liggaamsbou nie, maar ook fors in sy optrede en handhawing van wat hy as reg en regverdig beskou.

CF Niemann.png

SKOOLHOOFDE

Mnr WJ van den Heever

1930 Julie 30 – 1942 Okt 23
Mnr WJ van den Heever
Mnr Van den Heever het
ʼn slag met die skool se kinders met klasspel gehad, met meelewing en met liefde gemotiveer.  Hy het Burgerkunde in ʼn tent langs die swembad gegee.  Dit was nie gedoen op ʼn akademiese wyse nie, hy het ware staaltjies uit die Anglo-Boere oorlog vir die kinders vertel wat almal so geboei het dat hulle hongerig na sy periode uitgesien het.  Hy is in Okt. 1942 oorlede na ʼn lang siekbed.

WJ van den Heever.png

SKOOLHOOFDE

Mnr W Orban

1918 Jan – 1930 Feb

Mnr W Orban

Begin onderwysloopbaan met MA-graad in Wysbegeerte (1912).  Word hoof by Villieria op 25- jarige ouderdom.  Word Inspekteur van Onderwys in Transvaal (1930).  Direkteur van Onderwys in Suidwes-Afrika (1935).  Voorsitter van die Gemeenskaplike Matrikulasieraad (1946); Direkteur van Onderwys in Transvaal (1948).  Sterf Des 1949 op 57-jarige ouderdom.

W Orban.png

SKOOLHOOFDE

Mnr FW Wagner

1910 Apr 7 - 1917 Des 12
Mnr FW Wagner
Was eerste hoof van die “Staatsmodelschool” wat op 1 Aug. 1893 in Pretoria geopen is. Sekretaris van die onderwyskommissie waarvan die sittings deur die Staatspresident en die Superintendent van onderwys bygewoon is.

FW Wagner.png

SKOOLHOOFDE

Miss A Arrow

1903 Aug 19 – 1910 Mrt 24
Miss A Arrow
Leerdertal 68
Sy is waarskynlik een van die vele buitelandse onderwysers wat op daardie stadium in Suid-Afrika skool gehou het.  Aan die einde van 1904 was daar in Transvaal 492 buitelandse onderwysers teenoor die 417 van Suid-Afrika.

Ms A Arrow.png

SKOOLHOOFDE

Mnr JL Moerdijk

1903 Feb 4 – Aug 18
Mnr Jan Leendert Moerdijk
Emigreer uit Perske, Nederland (1888) in antwoord op president Kruger se oproep om leerkragte.  Begin sy onderwysloopbaan in die distrik Waterberg.  Veg gedurende die oorlog in generaal Louis Botha se kommando.  Verlaat Villieria met bevordering.  Word inspekteur van skole (1913).  Verlaat die onderwys (1926) en gaan boer op sy plaas Buffelspoort tussen Warmbad en Nylstroom

JL%20Moerdijk_edited.jpg
bottom of page